Nasionale Cuppa For CANSA Dag – Bederf met Hoop!

English Media Release

18 Julie 2018 – KANSA is opgewonde om aan te kondig dat die eerste ‘Nasionale Cuppa For CANSA Dag’ op 3 Augustus 2018 plaasvind as deel van die Cuppa For CANSA veldtog wat tradisioneel elke jaar van Junie tot 31 Oktober aangebied word.

KANSA daag alle werksplekke, besighede en diensorganisasies uit om KANSA se ‘Bederf met Hoop/ Splash out Hope’ veldtog te ondersteun om so bewustheid te verskerp vir almal wat deur kanker geraak word. Ondersteuning van die projek sluit die volgende in: tree op as gasheer of –vrou vir ‘n Cuppa by jou werksplek en deel die geleentheid met ander deur foto’s daarvan op KANSA se Nasionale Facebook Bladsy – CANSA The Cancer Association of South Africa op 3 Augustus te plaas.

Maria Scholtz, KANSA se Nasionale Hoof van Volhoubaarheid sê: “Kuier saam met jou kollegas en geniet saam ‘n koppie van julle gunsteling drinkgoed en help so vir KANSA om opnuut bewustheid te skep oor die uitdagings wat werknemers, werkgewers en maatskappye ondervind wanneer iemand in die werksplek deur kanker geraak word. Lewe in die werksplek word makliker as jy en jou kollegas soveel as moontlik van kanker af weet. Ons weet dat werk vir die meeste kankeroorwinnaars ‘n waardevolle deel is van die pasiënt se pad na herstel. Die werksplek en die vermoë om ten spyte van kanker nog te kan werk, gee vir die persoon nog ‘n doel om te lewe en help om normaliteit te probeer herstel. Die diagnose van kanker is so erg dat dit ‘n persoon se lewe heeltemal en drasties omverwerp. ‘n Cuppa bied aan mense in die werksplek die geleentheid om meer oor kanker te wete te kom en help hulle om die persoon wat met kanker gediagnoseer is, te hanteer en te ondersteun. Kankeroorwinnaars baat geweldig baie deur die ondersteuning en aanvaarding van hul siekte deur hul kollegas.”

Deelnemers aan Cuppa funksies wat hul foto’s op KANSA se webwerf met ander deel, staan ‘n kans om wonderlike pryse in ‘n kompetisie te wen. Meer inligting oor die kompetisie kan hier verkry word…

“Hierdie is dus ‘n geleentheid vir korporatiewe maatskappye om hulle steun te verleen aan kankeroorwinnaars en om te bewys dat hulle saamspan in die stryd teen kanker. Skep ‘n feestelike atmosfeer by Cuppa geleenthede en skenk ‘n donasie van R400. Vir so ‘n skenking sal jy 6 spesiale en beperkte hoeveelheid Cuppa bekers, 6 ‘Splash Out Hope’ kentekens en ‘n CANSA Bannerthon van jou plaaslike KANSA SorgSentrum ontvang,” sê Scholtz.

Op die kleurvolle banier is die slagspreuk ‘Supporting the fight against cancer’ gedruk en dit spog ook met ‘n lint in pink en blou, wat verteenwoordigend is van alle soorte kankers. Word ‘n gasheer of –vrou van ‘n Cuppa geleentheid op ‘Nasionale Cuppa for CANSA Dag’, en word ‘n werknemer of werkgewer wat hoop bied aan almal wat deur kanker geraak word. Fondse wat so ingesamel word, word gebruik vir KANSA se versorging- en ondersteuningprogramme  vir Kankeroorwinnaars (pasiënte).

Vir meer inligting skakel asseblief vir Maria Scholtz, Hoof: Volhoubaarheid by KANSA. Stuur ‘n epos aan mscholtz@cansa.org.za of skakel 083 280 0725.

Meer oor KANSA

KANSA bied ‘n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en mense geaffekteer deur kanker. As ‘n leidende rolspeler in kankernavorsing (meer as R12miljoen jaarliks spandeer) word die wetenskaplike bevindinge en kennis wat deur ons navorsing opgedoen word, gebruik vir ons gesondheidprogramme en om ons rol as waghond tot groter voordeel van die publiek te versterk. Ons gesondheidprogramme bestaan uit bewusmaking van gesondheid, siftingstoetse vir kanker en veldtogte oor gesondheidopvoeding, KANSA Sorgsentra wat ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste bied aan mense wat deur kanker geraak word, stoma en ander kliniese ondersteuning en organisatoriese bestuur, verhuring van mediese toerusting sowel as a tolvrye nommer wat geskakel kan word om inligting en ondersteuning te bekom. Ons verskaf ook pasiëntesorg en ondersteuning in die vorm van 11 KANSA Sorgtuistes in die hoof metropolitaanse areas vir weg-van-die-huis kankerpasiënte.

Navrae KANSA

Besoek www.cansa.org.za of kontak jou naaste KANSA SorgSentrum, skakel KANSA tolvry of kontak jou naaste KANSA SorgSentrum, skakel KANSA tolvry 0800 22 66 22 of stuur ‘n epos aan: info@cansa.org.za. KANSA bied meertalige ondersteuning aan op Whatsapp: 0721979305 vir Engels en Afrikaans en 0718673530 vir  Xhosa, Zulu, Sotho en Siswati.  Volg KANSA op Twitter: @CANSA (http://www.twitter.com/CANSA), sluit aan by KANSA op Facebook: CANSA The Cancer Association of South Africa en volg KANSA op Instagram: @cancerassociationofsouthafrica

DO YOU HAVE A QUESTION?
 

Ask CANSA