16 Julie 2024 – Die Kankervereniging van Suid- Afrika (KANSA) is verheug om aan te kondig dat die jaarlikse Cuppa for CANSA–seisoen nou oop is. Hierdie interaktiewe veldtog nooi familie, vriende, kollegas en sosiale groepe om byeen te kom en gehaltetyd saam deur te bring met ’n lekker koppie koffie of tee, terwyl noodsaaklike fondse vir KANSA ingesamel word.
#CuppaForCANSA, #CANSACares, #CANSACareAndSupport, #FourSeasonsForCANSA #FiveRosesSA
Vanjaar se tema is ‘Vier Seisoene’, wat demonstreer hoe kanker, nes die seisoene, altyd teenwoordig is en nooit ’n blaaskans neem nie. KANSA bly onwrikbaar in hul ondersteuning deur die verskillende fases en seisoene wat diegene met kanker ervaar, en help individue en geliefdes om dinge baas te raak, ongeag die seisoen.
Anita Snyders, KANSA se Nasionale Bestuurder vir Volhoubaarheid, sê, “Dis ’n wonderlike geleentheid vir jou vriende, familie, werknemers, kollegas of kliënte om betrokke te raak. Almal kan byeen kom en ’n lekker ‘Cuppa’ geniet, en terselfdertyd help om kanker te beveg en fondse in te samel sodat ons kan voortgaan om gesondheidsbewusmaking te skep, asook opvoeding-, sorg- en ondersteuningsprogramme aan te bied.”
Deelnemers kan kies om self ’n Cuppa-geleentheid met die Vier Seisoene-tema te registreer en gaste te nooi, of hulle kan ’n Cuppa-geleentheid in hulle area bywoon. Die veldtog word moontlik gemaak met die volgehoue ondersteuning van ons amptelike tee-vennoot National Brands – Five Roses en sluit die produksie van ’n beperkte reeks ‘Vier Seisoene’-bekers in wat te koop is (R60 vir een beker of R220 per stel). Hierdie bekers is die perfekte geskenke vir gaste of dit kan jou gunsteling beker word om ’n lekker ‘Cuppa’ te geniet.
Cuppa-geleenthede speel ’n uiters belangrike rol om geld in te samel wat KANSA se onskatbare dienste ondersteun, insluitend vroeë opsporing van kanker deur opvoeding, bors-, prostaat- en vel-siftingstoetse, asook die sorg en ondersteuning van pasiënte. Die ondersteuning sluit in tuisgebaseerde sorg, die huur van pruike en mediese toerusting, borsprostese en bra’s, stoma-sorg en ’n verskeidenheid van ondersteuningsgroepe asook tele-berading.
As deel van die Cuppa for CANSA-veldtog, vind sommige KANSA-tee geleenthede High Teas ook regoor Suid-Afrika plaas in samewerking met Maroela Media.
Hierdie geleenthede is hoogtepunte op die KANSA-kalender, met opwinding, kompetisies, pryse en geskenke.
Tee-geleenthede word beplan vir:
- Gqeberha op 14 September, met vermaak deur BOETA B;
- in Pretoria op 23 Oktober, met Rozanne McKenzie (Mede-aanbieder op The Drive with Rob & Roz op Jacaranda FM, stemkunstenaar, aanbieder, vervaardiger) as die seremoniemeester, asook die vermaaklikheidskunstenaar Monique Steyn,
- en in Paarl in die Boland op 9 November
Snyders sluit af, “Ons sien daarna uit om ons gashere en -vroue sowel as gaste te verwelkom en hoop dat hulle dit sal geniet om deernis, vriendskap en warmte na hierdie geleenthede te bring tydens ’n koue seisoen van die jaar, nes KANSA dit geniet om ook saam met hulle tyd te spandeer. Cuppa bring gemeenskappe op ’n baie spesiale manier saam en gee aan hulle die geleentheid om ons te help om Suid-Afrika na ’n kankervrye toekoms te lei.”
Registreer om ’n Cuppa-geleentheid te hou of vind meer inligting rakended ‘n KANSA-teemaaltyd naby jou.
(Vir meer inligting, kontak asseblief vir Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie by KANSA per e-pos lbalona@cansa.org.za. Skakel 011 616 7662 of op haar selfoon 082 459 5230.)
Navrae KANSA
0800 22 6622 Tolvry
072 197 9305 Engels en Afrikaans
071 867 3530 Xhosa, Zulu, Sotho en Siswati
KANSA Versorgsentrums