24 Julie 2023 – Die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) se jaarlikse Cuppa For CANSA (Cuppa)-veldtog beoog om familie, vriende, kollegas en sosiale groepe byeen te bring om gehaltetyd saam deur te bring en pret te hê, terwyl hulle KANSA se belangrike missie – om kanker te beveg – ondersteun. Cuppa-geleenthede samel geld in vir KANSA om vroeë en opsporing deur opvoeding te bevorder; vir bors-, prostaat- en velsiftingstoetse; die versorging van pasiënte, ondersteuning wat tuisgebaseerde sorg insluit, asook die huur van pruike en mediese toerusting en stoma-hulp. Deelnemers kan self ’n Cuppa-geleentheid hou of dit as ’n gas bywoon.
#CuppaForCANSA #CANSACares #CANSACareAndSupport #WithFriendsLikeTeas #FiveRosesSA
Anita Snyders, KANSA se nasionale bestuurder vir Volhoubaarheid, verduidelik, “Cuppa is een van KANSA se gewildste veldtogte, danksy die wonderlike ondersteuning wat ons vanaf die publiek, vennote en borge kry, en ons is opgewonde om gashere en -vroue uit te nooi om te registreer om ’n geleentheid te hou.”
Vanjaar se Cuppa-tema is ‘With Friends Like Teas’ wat dui op die pret, warmte, omgee en deernis wat ervaar word wanneer mens tyd saam met vriende deurbring. “Een van my gunsteling gesegdes is ‘Vriendskap gaan nie oor hoeveel tyd jy saam met iemand deurbring nie. Dit gaan oor met wie jy die lekkerste tye het.’ Ek dink die Cuppa-geleenthede som dit perfek op,” voeg Snyders by.
Die tema eggo ook die sorg en deernis van die waardevolle werk wat KANSA regoor Suid-Afrika doen. Kankerpasiënte (oorwinnaars), geliefdes en versorgers benodig ’n vriend(in) wanneer hulle met kanker gediagnoseer word of daardeur geraak word. KANSA is al vir meer as 90 jaar lank toegewyd om diegene wat kanker in die gesig staar te help met inligting en hulpbronne, daaglikse bystand en emosionele ondersteuning.
KANSA nooi gashere en-vroue uit om ’n Cuppa-geleentheid te hou. Die eerste stap is om op die Cuppa For CANSA-webtuiste te registreer of deur ’n e-pos te stuur aan adewitt@cansa.org.za. Beide individue en korporatiewe maatskappye kan as deelnemers registreer. ’n KANSA streekspersoneellid word as vennoot aangestel om met ondersteuning van die geleentheid te help.
Gashere en -vroue kan ook vir die jaarlikse Cuppa for CANSA-kompetisie inskryf vir ’n kans om fantastiese pryse te wen. Die kompetisie is oop vir registrasie vanaf Julie 2023 en Cuppa-geleenthede kan van Augustus tot Oktober 2023 gehou word. Beperkte uitgawe Cuppa for CANSA-handelsware kan gekoop word en dien as oulike geskenke vir Cuppa-gaste. Pryse sluit in geborgde Body Kind sportsbra’s deur Lisa Raleigh, lugbraaiers en die groot prys van ’n spesiale Lisa Raleigh-bounti Bungee Studio trampolien (rebounder) vir die gasheer of -vrou wat die meeste geld insamel.
KANSA is dankbaar teenoor Five Roses, die amptelike Cuppa for CANSA-vennoot wat die produksie van die beperkte uitgawe Cuppa-bekers skenk, asook tee vir elke geleentheid.
Snyders sluit af, “Ons sien daarna uit om ons gashere en -vroue en hulle gaste te verwelkom en hoop dat hulle die geleentheid net soveel soos ons sal geniet. Cuppa bring vriende op ’n spesiale manier byeen en gee aan hulle die kans om ons met die geveg teen kanker te help, deur seker te maak dat ons met sorg- en ondersteuningsprogramme en gesondheidsveldtogte kan voortgaan om tot kankerbewusmaking en die verlaging van kankerrisiko by te dra.”
Gashere en -vroue kan geleenthede onder vanjaar se tema ‘With Friends Like Teas’ hou of hulle eie tema kies. Cuppa-geleenthede kan ook gehou word om spesiale dae te vier, soos verjaarsdae of herdenkings ten bate van KANSA. Gashere en-vroue kan self besluit of hulle dekor, drankies en eetgoed by die tema wil aansluit.